Depressie Poem by Monica May

Depressie

Met jou skurwe hakke,
Onversorgd, wangevoed en kaal
Skuil jy in die skadus
Wyl die lewe chaoties om jou maal.

Jou heuningtaai hande
Word taaier by die dag,
En sonder weerga klou jy vas
Drein jy my van al my krag.

Kind van venyn en verraad,
Geketting in ‘n donker hoek,
As niemand weet jy’s daar
Sal iemand na jou kom soek?

My pyn is jou brood en botter,
my onsekerheid jou wyn,
En soos jy groot en sterk word, .
word ek swak en klein

Vergroeisel van my siel,
Sal ek ooit van jou ontslae raak?
Of is jy soos die hartklop in my bors:
Terselfdetyd gekoester en gehaat.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success