Heer Nederig Kniel Ek Voor U Neer. Poem by Marien Jacobs

Heer Nederig Kniel Ek Voor U Neer.

Rating: 5.0

Heer nederig kniel ek voor U neer,
Om van U alleen te leer,
Deur my te verneder voor U wil,
Met 'n gees rustig, eerbiedig en stil.

Help my Heer om in myself niks te bly
En soos 'n goeie krygsman vir U te stry.
En al word die lewensgolwe ook al hoër,
Laat my hande aan die kruis bly; vasgeboor.

Heer, laat my daagliks meer aan myself sterwe,
Dat die koringkorrel kan lewer menigvuldige koringgerwe.
O Lam van God, my hele wese strewe
Dat Christus alleen in my mag lewe.

En mag elke aspek van my wees, aan God alleen toegewy,
Want ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my!
Aan U oorgegee my hele wese, saam met als wat ek het,
Lewend gemaak deur U Gees – dood vir slawerny van die wet.

Die hoogmoed van die vlees se 'eie ek' het ek voor U bely,
En aan U gee ek die sleutels van my lewe, vir volle heerskappy,
Want solank my vlees teen die werking van U gees stry,
Vernietig die 'ek' myself, saam met alles en almal rondom my.

Tot 'n totale einde aan myself het U my gebring,
Waar slegs totale gebrokenis my wese deurdring,
Galasiërs 2 vers 20 – 'n totale sterwe aan alles van die vlees,
Sodat die enigste lewe nou in my kan wees – die van U Gees!

Met Christus gekruisig word ons van die vlees se heerskappy bevry,
En 'ek' leef nie meer nie, maar Christus Jesus leef nou in my,
En die lewe wat ek nou in die vlees, deur geloof in Christus leef,
Is om vir Hóm, wat my lief het en Homself vir my gee, te streef.

Mag ek daagliks steeds minder word en U net meer,
Want U alleen is nou my Koning en my Heer!

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success