Friday, September 14, 2018

LAND VAN GENADE EN VERDRIET Comments

Rating: 0.0

1.

tussen jou en my
hoe verskriklik
hoe wanhopig
hoe vernietig breek dit tussen jou en my

soveel verwonding vir waarheid
soveel verwoesting
so min het oorgebly vir oorlewing

waar gaan ons heen van hier?

jou stem slinger
in woede
langs die kil snerpende sweep van my verlede

hoe lank duur dit?
hoe lank vir ‘n stem
om ‘n ander te bereik

in dié land so bloeiende tussen ons


2.

in die begin is sien
sien vir eeue
die kop vul met as
geen suurstof
geen spriet
by sien word eindelik woord gevoeg
en die oog stort af in die woedende wond

hoor! hoor die opwel van medemenslike taal
in haar sagte weerlose skedel
en hoor die stemme
die talige stemme van die land
almal gedoop in die lettergreep van bloed en hoort
be-hoort die land uiteindelik aan die stemme wat daarin woon
lê die land aan die voete van verhale
van saffraan en amber
engelhaar en kwets
dou en eer en draad


3.

woordeloos staan ek
waar sal my woorde vandaan kom?
vir die doeners
die huiweraars
die banges
wat bewend-siek hang
aan die geluidlose ruimte van ons onherbergsame verlede

wat sê ‘n mens?
wat de hel dóén ‘n mens
met dié drag ontkroonde geraamtes, oorsprong, skande en as

die land van my gewete verdwyn sissend
soos ‘n laken in die donker


4.

ons dra die dood
in duisend klowende gedaantes
drummelend
droef
dra ons die dood

hy klamp sy mond aan ons hart
hy drink steunend
hoe wars lok die lig op ons vel
dit weet
ons mense dra die dood
dit lyk na onsself
ons maghe spoel daar swart van
‘n buidel van ink
ons dra die dood die huis binne
en ‘n taal sonder genade
alles ruik ineens na geweld

die dood klap sy beroulose kleppe in ons taal
ja, die onverdrote deeglike dood


5.

hier langs die lang wit skaduwee
waar ek die weeklaag van sprinkaan wou agterlaat
van sprinkaan en dood wou laat, hoor ek die geluid
die geluid van weeklaag

hier langs die lang wit skaduwee
waar ek glans gryp, eer gryp wat ooit glans was en luisterryk wit
het ek die waarheid gehoor en hoe om dit geweld aan te doen

dat ek reis dat ek afreis langs die koring en kaf van my verlede
wat voortkruip op sy dodelike knieë sonder om ooit een maal op te kyk
dat ek op my knieë voortklou na die plek

na die ademligte plek waar die lig nooit net wapper nie
hier allangs die lang wit skadu van dodelike en gemolesteerde waarheid
begraaf ons vele begraaf ons sonder dooskleed of ritueel

vele begraaf ons en uit die grafte spruit daar
die skaduwee spruit glans en klitsgras en koring
die geluid van sprinkaan hier langs die lang wit skadu

en my verlede sit so goed in sy tande al langs
sy tande sit dit goed in die skadu van sulfer en aluin en dit word tyd
die tyd van moordenaar en skaamte en tin

ek bly glip bly glip uit die waarhied
terwyl langs my die lang wit skaduwee sidder
wat ek was loop bruusk die lang wit siddering van as en skuld

sny my ek wat steeds glip in die lang wit skaduwee
uit tyd uit willekeur en leuens uit die onhoudbare siddering
allangs die leegheid van weeklaag en skadu

sny my van wraak en verlies van ruïne
sny my die lang wit litteken die ligeen en as sny my vry
in berou o my hand my hand gryp die laken soos ‘n keel


6.

die liggaam beroof
die blind gefolterde keel
die prys van die land van verskrikking
is die grootte van ‘n hart

verdriet draal so alleen
as die stemme van die angstiges verdrink op die wind

jy gee nie op nie
jy trap ‘n voetpad oop met seer versigtige stappe
jy sny my los

in lig in - liefliker, ligter en kraniger as lied

mag ek jou vashou my suster
in dié brose oopvou van ‘n nuwe, enkele medewoord


7.

diepste hart der harte
hart wat net kan bars uit hierdie swart aarde
onverskrokke
met tande ferm
in die slagaar van die enigste waarheid wat altyd opstaan
en in dié land is goddank altyd dié wat opstaan
opstaan en opstaan
teen die ander in
teen die eie in
teen geweld en onreg in
ek besing dié verblindende medemenslike hart
met ‘n lied van hoort en behoort
die keel smeul in trane
vir een kortstondig skitterende oomblik is dié land
waaragtig ons algar s'n

o my allerhart, jy kom verruk op die been!


8.

vanweë die verhale van verwondes
lê die land nie meer tussen ons nie
maar binne-in

sy haal asem
gekalmeer na die litteken
aan haar wonderbaarlike keel

in die wieg van my skedel sing dit
ontbrand dit
my tong my binneste oor die gaping van my hart
sidder vorentoe na die buitelyn
van ‘n woordeskat nuut in sag, intieme keelklanke

van my siel leer die retina oopgaan
daagliks - ‘n duisend woorde
skroei my tot ‘n nuwe tong

ek is vir altyd verander. Ek wil sê
vergewe my
vergewe my
vergewe my

jy wat ek veronreg het - seblief
neem my
met jou saam


9.

wat doen ‘n mens met die oue
wat so lustig saamstink in die nuwe
die ou virus beman reeds flink die nuwe kleppe

hoe herken mens die oue
met sy rassisme en slym
sy onveranderde besitlike voornaamwoord
wat is die verlede tyd van die woord haat
wat is die simptoom van gebrutaliseerde bloed
van pyn wat nie taal wou word nie
van pyn wat nie taal kón word nie

wat doen ‘n mens met die oue
hoe word jy jouself tussen ander
hoe word jy heel
hoe word jy vrygemaak in begrip
hoe maak jy goed
hoe sny jy skoon
hoe ná kan die tong tilt aan teerheid
of die wang aan versoening

‘n punt
‘n lyn wat sê: van hier af
van dié moment af
gaan dit anders klink
want al ons woorde lê naas mekaar op die tafel
bibberend van die kleur van mens
ons weet nou mekaar
mekaar se kopvel en reuk mekaars bloed
ons weet die diepste geluide wat mekaar
se niere maak in die nag
ons is stadig mekaar
opnuut
nuut
en hiér begin dit


10.

(maar as die oue nie skuldig is nie
nie skuld bely nie
kan die nuwe natuurlik ook nie skuldig wees nie
en nooit voor stok gekry word
as hy die oue herhaal nie
alles begin dus van voor af aan
dié slag anders ingekleur)

...

Antjie Krog
COMMENTS