HOE EK MY NAAM GEKRY HET Poem by Charl-Pierre Naudé

HOE EK MY NAAM GEKRY HET

(of 'n Beknopte relaas van kolonisasie)


Om 'n naam aan iets te gee,
is om lewe daarin te blaas.

Van al die maniere waarop diere voortplant,
mekaar beskerm en saam oorleef
is dit die gee van 'n naam deur een
aan 'n ander wat die spesie vir ewig
in iets anders verander.

Die gee van name
is die ware oorsprong van die mensdom.
Die begin van die Skepping.
Waarom Darwin verkeerd is.
En hoekom sy kat weggeloop het.

Die gee van name is ook die rede
dat God hemel en aarde binne sewe dae geskape het.
Sewe name in 'n huishouding is meer as genoeg.

'n Daad van liefde, is die gee van 'n naam.
('n Meedoënlose daad
van onderwerping ook, maar dit daar gelaat.)

My ouers het my 'n naam gegee -
'n naam waaroor ek verdeeld voel,
wat spog met 'n koppelteken
en klaarblyklik nie minder verdeeld is in homself nie.

Maar 'n mens moet baie versigtig met jou naam omgaan
want dit behoort nie aan jou nie.
'n Naam is 'n manier waarop ander mense liefhet.

My naam is 'n stingel met blare
gepluk uit die Hugenote-diasporabossie
maar die wortels en die kroon het agtergebly.

Nou weet ek waarom daai ander digter
sy ewe bloemryke naam
in Jan Blom verander het.

Ek was reeds 'n paar maande oud,
die siekerige kaptein van 'n papierbootjie wat water trek,
my voete spartelend in hul sokkies soos stompneuse in 'n hoos,
toe pa besef my naam in die nasionale register is verkeerd.
Verskeie teoriëe bestaan oor waarom daardie ou vlugtelinge
uit Frankryk hul taal so gou verloor het:
Hulle was eintlik 'n Germaanse stam, teen hul sin geskoei en gestrik
in 'n handlanger-taal van die Duiwel wat gewitvoetjie het by die Pous.
Of, gretig om die voëltjietaal van die hemel aan te leer,
was dit louter plesier om aardse gebrabbel af te skud.
Skaars het die stof-engeltjies in die pad gaan lê
of die ou voetslaners vergeet hoe om hul eie name te spel.
'n Mens kan die nuwe wingerd nie vertrou nie,
en ook nie sy Nagmaalbeker nie.

Maar my pa was 'n ingeligte man:
hy sou die probleem vir ewig regstel.
Die setlaars van Afrika doen mos alles verkeerd . . .
Tog, nooit te laat om 'n fout reg te maak nie.
Toe klim hy in sy Willy's Jeep om die honderd myl of so
na die hoofdorp van Oos-Griekwaland aan te durf -
waar hy streeksdokter was en die mense hom
met hoenders en eiers betaal het - deur die vlae sneeu en reën
en verdwaal in die kruipende mis, sy liggaamsdele
wat stuk vir stuk voor sy oë verdwyn, terwyl die Jeep
deur die modderkonfyt kreun op 'n mitiese reis.
Die toegegooide landskap het onophoudelik
onder die skopgraaf van die ruitveër geknipoog,
in die verwisseling van sneeulae op die ruit.
Dit was 'n beginselsaak dié, 'n kwessie van jouself-ken:
Sy seun se naam moet die oorspronklike spelling hê;
nie soos dit nou daar staan, 'n deel daarvan
onder die wawiel vergruis, 'n ander deel net skoonveld.
Nie goed genoeg nie. Tyd vir bestekopname.
Geen halfgebakte naam vir sy spruit nie.
Tyd vir geheue, nou. Vir liefde om betoon te word
op die behoorlike manier. Hy was dierbaar, my pa.

Maar die poging het misluk.
My naam nog meer verkeerd gespel,
meer Afrikaans, selfs meer verbaster.
Verder van sy wortels, nog verder in die toekoms.
Meer homself as wat enige een kon vermoed.
Die ‘es' van die Franse Charles - soos in Charles Baudelaire
sal ek my verbeel,
nee, om presies te wees Charles Pierre Baudelaire -
was steeds soek en is nooit weer teruggesit nie.
My naam sou net Charl bly.
Eenvoudig, gesinkopeer.
Miskien het die akkedis geskrik en sy stert verloor,
wat toe deur 'n sangoma opgetel en gebottel is.
En die koppelteken van al daai vervelige ou Jean-Pierres,
die piepklein voeghoutjie gemaak om 'n klinker
aan sy opvolgende medeklinker te verbind, dié eindig in my naam.
Dit moes 'n aardbewerasie gewees het
wat die splinterhoutjies en die spaghetti-alfabette
oral in die land so opgeklits het
juis op die moment
toe my pa sy hand in die naamfles steek.

Ja nee, dis nooit anders nie.
Dis presies wat gebeur het:
Dieselfde soort aardskudding het by geleentheid
ook ander belangrike name en gebeurtenisse deurmekaar geskommel.
Kyk wat dit gedoen het aan Genghis Garibaldi,
die man na wie Guy Fawkes vernoem is.
Of die arme Hendrik VIII, ses keer onthoof
deur sy aaklige vrou omdat dit die eerste maal nie
en ook nie die tweede maal gewerk het nie, ensovoorts.
Of die Indiese keiser wat vir sy gestorwe vrou
daardie pragtige mausoleum, die Vatikaanstad, gebou het:
'n mens kan altyd die geslagsdele vertrou
om 'n asembenemende konstruksie op heilige water te laat dryf.
En moenie die Eerste Lateraanse Konsilie vergeet nie,
een van die somberste modeparades van aandrokke ooit
en heeltemal onbelangrik weens die selfontkenning
inherent aan dié bedryf,
waarna menige ongelukkige siel
ontdek het sy het die liggaam van 'n vrou.
Ek het nogal lig daarvan afgekom.

My naam is verkeerd gespel
maar op die regte manier.
Jy hoef dit net te vergelyk
met ander weergawes om te sien dis waar.
Die oorsprong daarvan lê nie
in die verlede nie, maar in die toekoms;
in 'n woordeboek wat nog dryf in die buiteruim,
sy thesaurus reg langsaan - volgens astronome.
'n Jan en 'n Jaap,
twee broedersterrestelsels,
twee drag queens:
'n meisie in dieselfde ontwerp geklee
maar vir 'n ander seisoen.

Die toekoms:
wortels wat in die lug rank;
my naam is 'n boom wat in die grond geduik het.

Daardie koppelteken sit nou
soos 'n pleister oor my neus.
Ek loop weer die kombuis binne.
Ek is 'n klein seuntjie.
Na waar Mamma staan.
Waar sy steeds staan, in die herinnering.
Sy vryf die pleister sodat dit kleef.
Dis ons twee se geheim.
Ons gee albei voor.
Ek het dit toe geniet,
waarom sou ek nie nou nie?

Ons glimlag vir mekaar,
my ma en ek.
Netnou, oor 'n rukkie
sal my pa by die huis wees.
Ek kan nie wag nie.
Hy sal langs my kom hurk,
sy mond tuit en versigtig
die strokie op my neus ondersoek.
Dan sal hy my vra wat verkeerd is.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success