Vergifnis Poem by Gerhardus Keen

Vergifnis

JUNIE SKRYFUITDAGING
TEMA: Eie Tema - Vergifnis
Soos gepubliseer op Malherbe: Die Boekehuis

Wat kan en sê van my pa? "Ken jy my pa? Hy was 'n vreeslike man", het ek altyd vir mense gesê. Dan het hulle gelag, asof ek 'n grap gemaak het. Maar my pa wás 'n vreeslike man.

My pa was die oorspronklike Van Helsdinging. As die dag gebreek het, het my pa dit sommer self reggemaak. Mens kry mos net twee tipe Iere. Die een het 'n moerse goeie sin vir humor en die ander het mos 'n vieslike kort humeur. Wel, my pa het glad nie 'n sin vir humor gehad nie. En ons mag hom nie pa genoem het nie. Nee, hy was "dad".

Van kleins af kan ek onthou hoe my pa altyd vriendelik teenoor ander mense se kinders was, terwyl hy ons met 'n pakslae gaan laat slaap het en ook met 'n pakslae laat opstaan het. "Dis vir wat julle aangevang het waarvan ek nie weet nie, óf vir wat julle dalk nog gaan aanvang", het hy altyd gesê.

Die ander kinders het altyd gesê hulle wens my pa was hulle pa. "Ek wens ook so", het ek hulle net geantwoord. Maar diep binne my het ek geweet hulle sou die "regte" pa nooit kon hanteer nie. Die man met die mooi glimlag en sagte hart het 'n donker kant ook gehad wat die ander mense nooit aanskou het nie. Hy was soos 'n Orca, (Killer Whale) . Lyk onskadelik vriendelik op 'n afstand en mens sal dit graag wil besit, maar is eintlik 'n dodelike gevaarlike wese.

As gevolg van my pa, moes ek al op dertien jarige ouderdom volwasse word. My ma het hom verlaat en met ons vyf kinders het sy pad gevat en 'n nuwe lewe begin. Sy kon ons seker daar gelos het en op haar eie weggegaan het, maar dit was nie wie sy was nie.

Op sestien verlaat ek skool en begin as vakleerling op die myn werk. Ek kry 'n woonstel, omdat ek vir my ma en susters moet sorg. Die einde van die maand kry ons 'n tjek en net soos ek by die myn se hek uitstap, wag my pa daar op sy motorfiets en sê ek moet opklim, hy vat my bank toe. My heel eerste salaris was R104-00. By die Perm Bougenootskap staan ons in die lyn. By die teller word my geld afgetel en aan my oorhandig. My pa steek sy hand uit. "Wat nou", vra ek hom. Hy sê dat ek hom moet betaal, want hy het my grootgemaak. Ek sê toe dat ek die geld nodig het want ek moet vir ma en susters sorg. Na 'n gestryery is hy daar weg met R52-00. In 1982 was dit baie geld.

My pa is uit ons lewens, maar drie jaar later daag hy weer op vir sy "grootmaak geld". Ek is egter al bietjie gebrei deur die lewe én deur die SAW & Seuns. Ek staan dié keer my man. Ek is mos die man van die huis. Hy het sy beurt gehad, maar dit verbrou. My pa wil sommer sy vuiste lig, maar ek laat hom duidelik verstaan dat, hoewel ek hom nog respekteer, dit nie 'n wyse keuse is nie. Ek sal nie sommer my vuiste vir my pa lig nie, maar ek sal my ma en my susters met my lewe verdedig. My pa was miskien nie 'n goeie pa nie, maar hy kon darem 'n situasie reg opsom.

So verloop daar weer jare wat ek nie weet waar my pa is en of hy nog lewe nie. Kry ek my pa opgespoor by sy broer se seun en skoondogter. Hulle hou hom nét daar vir sy pensioen geld, kom ek agter. Ek is intussen getroud en kry my pa om by ons te kom bly. Alles gaan goed vir 'n rukkie. Skielik wil my pa my huishouding oorvat, sý reëls weer laat geld. Ek sal ons gesprek nooit vergeet nie. "Dad. Toe ek in jou huis gebly het, het ek by jou reëls in geval. Jy bly nou in mý huis. Ek sal dit waardeer as jy by my reëls inval", was my woorde aan hom. Hy het terug aangeval en ek het besluit - tot hier toe en nie verder nie. Ek het vir hom gesê: "Dad. Ek en jy sal nie regkom nie. Ek vat jou terug na jou broer se kinders toe. En moenie vir my kwaad wees nie. Ek is 'n produk van jou en twee harde klippe maal nie."

Dit is hoe ons uitmekaar is. Toe kom die gevreesde oproep. "Jou pa is dood. Hy word in Bethlehem begrawe. Sien ons julle by die begrafnis? " "Wat? My pa is dood? Hoe het dit gebeur? " Ek moes hoor dat hy prostaat kanker gehad het en dat hy op morfien was. Daar loop gerugte rond dat sy broer se vrou hom heeltyd onder verdowing gehou het en sy pensioen geld gebruik het. Sy het hom glo té veel morfien gespuit en dis waarvan hy dood is. Ons kan dit nie bewys nie, want dis slegs spekulasie.

Nou begin die familie praat. Ons kan my pa se longe wegstuur vir ontleding, want hy het sy lewe lank op die myne gewerk. Dan word daar geld uitbetaal, want hy het ook myntering opgedoen. Ek sit my voet neer. "Julle los hom net soos hy is. Niemand wou iets van hom weet toe hy nog gelewe het nie. Los hom nou dat hy in vrede kan rus. Die geld sal tog net nóg 'n familie twis veroorsaak."

So ry ons in die begrafnis stoet. Alles klink onaardig stil. Ek sien mense ry werk toe. Mense loop in die strate. Mense wat inkopies doen. Ek dink by myself: "Wat is fout met julle? My pa is dood en julle gaan aan asof niks gebeur het nie. Hoekom het alles nie tot stilstand gekom nie? " Vir die eerste keer in jare huil ek. Nie sag nie. Nie daar waar niemand my kan sien nie. Nee, ek huil onbeskaamd. Ek gee nie om wié my sien nie.

"Dad", sê ek vir die liggaam in die kis. "Dad, as ek net ons laaste gesprek kon terug kry. Dad, ek sou jou eerder wou vasdruk en sê dat alles okay is. Ek sou sê dat ek verstaan. Jy het net die liefde gewys soos jy dit verstaan het. Jy het my eintlik sterker gemaak deur die manier hoe jy ons behandel het. Dit is te danke aan jou dat ek die leiding in die huis kon neem toe jy nie meer deel was van ons gesin nie. Dad, dankie dat jy deel was van my lewe. Ek wens ek kon jou nét nog een keer in die oë kyk en vir jou sê Dad, vergewe my vir die manier wat ek jou behandel het. Ek het regtig gedink jy sal nog lank lewe en dat ons wel tyd sou kry om die wonde te heel. Dad, vergewe my. Gaan rus nou sag. Jy kannie meer seergemaak word nie."

© Gerhardus Keen - Junie 2019

Saturday, July 6, 2019
Topic(s) of this poem: forgiveness
COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success