Pofadder Poem by Jose Claassen

Pofadder

Daar tussen nêrens en Namaqua
Daar waar die Namibgrens
sy pote in die grond vassteek
Daar in die mittel van verlatenheid
Daar vind verlossing die verlore
Daar in die doere dorre holte
waar die hemel die aarde groet in ‘n stofwolk
waar die vaalbossies waai
en die engele vir enkele siele heen draai
Daar waar Koranna Klaas vir laas
sy kop laat lê het
en waar die skurwejantjies smaail
en die beeskloutjies gaap
vir die ghaap en die ghirri
en die ou ooms met die kieries
en waar die water stroompies staan
en stywe modder maak
Daar waar die skaap en die bok
die boer beur
en die Langberg arend
neerdaal op teikens
Daar tussen nimmers en nooit tevore
is ons rympie juis gebore,
Want daar’s ‘n Pofadder plekkie in ons almal
daai stille woestyn wild
die woning van wanhoop, woede en wind
waar niemand en niks ons vrykoop
en waar vakansiegangers elke nou en dan deur loop
en ons weer net daar los
tussen grond
en God...

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Jose Claassen

Jose Claassen

Hillbrow, South Africa
Close
Error Success