Musiek Van Die Ystervark Musikant Poem by Elna Agenbach

Musiek Van Die Ystervark Musikant

ek wou so graag
sy gesig net streel
dat hy kan sien
hoe dagmusiek
skitter in varswater
en soos die note
plons en spat
sou dit die mooiste
melodieë bevat

maar sal ek dit nou
nog kan doen
noudat sy woorde
godeloos hier
langs pensklavier
orrel en lemonade
op skinkborde hoon
nog ratel hy en wys
en dreig ek ken musiek

dis wit en swart
geringde penne dis
tonnels en erdvarkgate
boombas en bolle
vrugte en knolle dis
die fluit se asem
wat opraak die kitaar
se dagdrukke wat verflou
die viool het opgehou

lank voordat die dag kon
redeneer met die nag
begin sy penne ratel en rys
swaar metaal sonder kitaar
sal hy ooit weet hoe
note blink in sagte water
as die los lang penne
van sy kamerade
lukraak begin skiet?

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success