Wens 'n wens. Soos 'n paddavis van lig
hang die komeet. Gebenedyde koms,
wanneer laas, wanneer weer?
Want ek weet nie hoe om die stemme van verkragte
kinders te verwerk hierso in hierdie vers nie,
dat hulle gehoor word, die bloedjies met die lippe,
die handjies wat met vingertaal pleit,
die blasoen van 'n verbryselde, haarlose poes.
Hoe sal die vernielde kind na die hemel kyk,
die vroegvrot een met 'n wete waarin
nou al die hele wêreld pas?
En is die lig ook geseënd en die water
gaaf soos vergeet se genade, word die kind
ook rank en skrander en opreg,
die wond is groter as die see.
Klaarkom met jou geworpenheid, liewe kind,
soek nie op aarde die goedertierenheid.
Blompie vir plattrap, jy, en jou lentelikheid,
dié't verslaan. O, nie oor jou die passie
in die kerk en die dreunsang op straat.
Word groot, word slet, wraak is futloos,
word wys, word sy wat lag en skel.
Wens dit was 'n plofkop daar
skuins bo Vlaeberg se middagkanon
en dat ek nie tob en rou en wonder
moet ek 'n vers oor 'n komeet skryf?
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem