Kniel in my omhelsing, so, en stort,
berouvol van heldersiendheid, jou droewe saad
in my dat dit kan spartel in my
en ek kan luister na die gebrabbel in my
stilletjies van die gedrog
In die asemhalingstelsel van graftes,
in die murg van 'n argeloos oorlewende
lê ons bekwame kind voortreflik verby
sy vlekvrye staal eiers en skuif skuins weg,
ons parasiet met erflike aanspraak.
Uit die doodloopstrate van die onvrugbares
verstop van die slyk van vermoeide wellus,
uit die dik skaamlippe van vetplante
gebroei uit die grond van ons heerlike land,
uit al die gate in ons geheue
peul onverskillig die klonings en spuit
soos fluisterende skuim na die gekraakte lug.
Maar laat ons mekaar omhels, geen verwyte,
geen sinspelinge. Ons is afspieëling
van wat vergaan. Soms flikker dit.
Soms kerm 'n potplant. Soms ril
die fyngordyn. Roggelliedjies. Hoor jy?
Die huis trek nou om ons. 'n Kaatsing
'n oomblik gevang en oombliklik verloor
teen 'n nagtelike melkkwartsnaat is ons.
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem