Gestadig soos die son bedags versink,
kom nagpersoneel hul aanmeld vir diens.
Stiptelik ook die suster, formeel gevat
in uniform, met rooi epoulette toegerus -
embleem van haar gesag - teken sy
haar vir die nagskof aan. Sy glimlag;
dit word van senior personeel verwag.
Loer by die privaat saal in. Alles wel?
vra sy innemend onbesorg. Sorrie jong,
die skemerdop sal eers moet wag,
ons detox nou. Tik ‘n regmerkie aan.
Kort daarna sal sy ‘n trollie begelei
wat medikasie bring, die drup se stand
aanstip en moederlik wys: Sluk dit tog,
ou drommel; daar's nog ‘n stuk of agt
wat hier in die gang op my wag -
so dryf haar pasiënte ‘n stil nagsee in,
een na die ander chemies verdoof
en binne-aars gereinig van - knus
versorg vir minstens ses uur lank.
Tot die oggendlig buite begin lek
aan die skemer se grys membraan,
wat die slapendes wek om hul wonde
opnuut te voel klop en attent te maak
op die allerverskriklikste gruwels
wat daar buite wag.
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem
Eina-goed beskryf. Geniet jou skryfstyl.