Monday, October 15, 2018

OP DIE DAG WAT MY NEFIE ADRIAAN Comments

Rating: 0.0

Op die dag wat my nefie Adriaan dood is
was hy 31 jaar en 9 maande oud.
Al die treine het nie gaan staan nie.
Niemand het eers geweet nie.
Ek en Karlien en Lolla het by my ma'le Nuwejaar gehou.
My pa het spesiale wyne oopgemaak.
Ons het gedink dit was 'n lekker aand.

My nefie Adriaan se lyk
is eers twee dae later gevind
in sy eie woonstel
in Tamboerskloof
kaal
op sy eie sofa -
een of ander oordosis.
Daar was nie 'n brief nie.
Niks is gesteel nie.
Die polisie het nie vuilspel vermoed nie.
Dit was dalk 'n ongeluk.
Sy sagmoedige worshond, Neelsie, was by hom.

Neelsie was altyd by hom.
My nefie was 'n dokter.
In Bredasdorp se hospitaal het mense gekla
oor hy sy rondtes saam met Neelsie gedoen het.
'n Verpleegster uit die hospitaal het geskryf
hoe lekker hulle vir hom gelag het.
My nefie het graag stoute grappe vertel.
Hy kon mense goed namaak.

Pasiënte het geskryf om te sê
hy was 'n vriendelike, deeglike dokter.
Ek het nooit heeltemal geglo
dat Adriaan 'n grootmens
of 'n dokter was nie.
Vir my was hy die kleintjie,
die jongste nefie,
die een wat van olywe gehou het
toe ons nog daarvoor gegril het.

Op die dag van die roudiens
was my gedagtes bome in die wind.
My nefie was bipolêr.
Vier jaar gelede het ek hom in Londen
radeloos depressief gesien.
Hy't vertel van 'n ski-vakansie.
Hy't gesê die Alpe het na karton gelyk -
so asof iemand hulle vir 'n skool-musical wit geverf het,
maar die NG-dominee het aangedreun…
Op my dertigste verjaardag daai jaar
het Adriaan my Richard Ashcroft se
‘Alone With Everybody'
persent gegee.
Ek het nooit rêrig daarna geluister nie,
altyd gedog Ashcroft is 'n poser,
maar die dominee het aangedreun…
Dit het gevoel of ek op die strand
enkeldiep in die water staan
en die see begin terugtrek.
Die stroom was sterk,
die sand om my voete het verdwyn,
maar die see en die dominee het nie opgehou nie,
want ‘lewe' is 'n woord
wat die dood terugtrek.


Op die dag van my nefie Adriaan se roudiens
het ons familie se verlede vir altyd verander -
die dood
was skielik sigbaar in ou foto's
van kinderkersfeeste
het sy koue skadu gegooi oor kleintyd
se strandvakansies
het van ons boomhuis en sandkastele
'n voorbode gemaak
het ons beste herinneringe
se ribbes gebreek.

Maar die orrel het gespeel,
'n lied is aangehef,
die dominee het sy hande uitgestrek
en die woord ‘Adriaan'
se nuwe betekenis
het ons ontgaan.

Buite het die son gebrand.
...
Read full text

Danie Marais
COMMENTS
Close
Error Success