Noudat ek brosser beginne word,
weet ek nie meer so mooi
hoe ek dit het en waar ek hoort.
Die son die brand my skouerknoppe
bruin soos beskuit se ronde korsies.
Ek was so'n sappige kind!
'n Hele tagtig persent water
gerangskik om 'n skelet
nogal met skarniere toegerus
sodat ek die aarde kon bewandel,
vol verwondering kon raak aan
ander saamgestel soos ek: water
water water water water en.
...
Welkom, vreemdeling vergetelheid. Skroom
nie om jou donker vakuum om my uit
te brei, vergroting van die duister agter
my ooglede. Die lewe wat ek soos 'n spieël
gevat het om 'n omgekeerde waarheid
op te teken, noukeurig in verhouding
tot die grootte van die raam, het gekraak,
uiteengespat in skerwe wat my mondhoeke
skeur. So heet ek jou welkom, goeie
dood, jou naam my laaste bloederige
woord, jou anonimiteit 'n vervulling.
...
Welcome, stranger oblivion. Do not be
afraid to expand your black void round me,
magnification of the darkness behind
my eyes. Life which I held up like a mirror
to record an inverted truth,
precise in proportion
to the size of the frame, has cracked,
shattered, shards cutting the corners
of my mouth. Thus I bid you welcome, good
death, your name, my last bloody
word, your anonymity a fulfillment.
...
Eendag sal ek, weet ek, die dood
met laggende skedel trotseer. Minstens
my sin vir humor sal ek behou. Maar
of ek soos oorlee mevrou Ples en soos
die bloubok van my geboorteland
ook 'n glaskas in 'n museum sal haal?
'n Seldsame dier is die mens nou nie juis.
Tog, hoe slim tog is ons met ons
innerlike uurwerkvernuf, hoe sterk
die groot swaaiende hyskraangebare
waarmee ons wolkekrabbers reghoekig
neerplak in woon- en sakekomplekse.
Merkwaardig ons grabbelende navorsing
dwarsdeur dolomiet om ons arms diep
soos skagte te sink en die grys erts
te gryp en op te trek, te vergruis en te
veredel tot staaf op staaf korfagtig
gepakte kluise van belegging. A ja,
wonderbaarlik ons vermoë om weggooisand
tot vuurstof te verryk wat as ons wou
alles onherhaalbaar in allerlaaste oplaaiing
woes skoon kan laat ontbrand.
Ek sê mos die skedel lag
al huil en huil die gesig.
...
One day, I know, I'll outface
death with skull grinning. At least
I'll retain my sense of humour. But
whether, like the late Mrs. Ples
or the bluebuck of my native land,
I'll warrant a glass case in a museum . . . ?
Man is not exactly a rare animal.
Still, how clever we are with our
inner clockwork-genius, how strong
the wide swaying crane-like gestures
with which we drop rectangular skyscrapers
in residential areas and business centres.
Remarkable our scrambling research
right through dolomite to sink our arms
shaft-deep to grab and haul up
the grey ore, grinding
and refining it to bar on bar of hive-like
packed safes of investments. Oh yes,
absolutely marvelous our ability to enrich
discarded sand to fire-dust
which, if we wanted to, might just
furiously, beautifully burn up everything
in an ultimate unrepeatable blaze.
Didn't I say the skull laughs
though the face cries?
...
Kniel in my omhelsing, so, en stort,
berouvol van heldersiendheid, jou droewe saad
in my dat dit kan spartel in my
en ek kan luister na die gebrabbel in my
stilletjies van die gedrog
In die asemhalingstelsel van graftes,
in die murg van 'n argeloos oorlewende
lê ons bekwame kind voortreflik verby
sy vlekvrye staal eiers en skuif skuins weg,
ons parasiet met erflike aanspraak.
Uit die doodloopstrate van die onvrugbares
verstop van die slyk van vermoeide wellus,
uit die dik skaamlippe van vetplante
gebroei uit die grond van ons heerlike land,
uit al die gate in ons geheue
peul onverskillig die klonings en spuit
soos fluisterende skuim na die gekraakte lug.
Maar laat ons mekaar omhels, geen verwyte,
geen sinspelinge. Ons is afspieëling
van wat vergaan. Soms flikker dit.
Soms kerm 'n potplant. Soms ril
die fyngordyn. Roggelliedjies. Hoor jy?
Die huis trek nou om ons. 'n Kaatsing
'n oomblik gevang en oombliklik verloor
teen 'n nagtelike melkkwartsnaat is ons.
...
Moet dus nie dat ek gaan
waar tornyne in die donker westerse water
sienderoog verdwyn en ek staan
en bly tuur, 'n windgehoue beeld nie.
Moenie dat ek reise aflê
na eilande uit die maan gedrup, sierade
soos die son dit wil hê;
of my van pool na pool aangeja wend nie,
moenie. Ek het die plek
met brosbreuk behoue in my gevind
en ontgin in dié bestek
wanhoop genoeg. En wolframharde haat.
...
Therefore do not let me go
where porpoises suddenly disappear
in dark western waters and I stand,
staring, a wind-hewn figure.
Do not let me travel
to moon drops of islands, adornments
as the sun would have them;
or turn from pole to pole, harassed,
don't. I found preserved
in me the brittle fracture spot
and mine within this province
despair enough. And hate hard as tungsten.
...
Wens 'n wens. Soos 'n paddavis van lig
hang die komeet. Gebenedyde koms,
wanneer laas, wanneer weer?
Want ek weet nie hoe om die stemme van verkragte
kinders te verwerk hierso in hierdie vers nie,
dat hulle gehoor word, die bloedjies met die lippe,
die handjies wat met vingertaal pleit,
die blasoen van 'n verbryselde, haarlose poes.
Hoe sal die vernielde kind na die hemel kyk,
die vroegvrot een met 'n wete waarin
nou al die hele wêreld pas?
En is die lig ook geseënd en die water
gaaf soos vergeet se genade, word die kind
ook rank en skrander en opreg,
die wond is groter as die see.
Klaarkom met jou geworpenheid, liewe kind,
soek nie op aarde die goedertierenheid.
Blompie vir plattrap, jy, en jou lentelikheid,
dié't verslaan. O, nie oor jou die passie
in die kerk en die dreunsang op straat.
Word groot, word slet, wraak is futloos,
word wys, word sy wat lag en skel.
Wens dit was 'n plofkop daar
skuins bo Vlaeberg se middagkanon
en dat ek nie tob en rou en wonder
moet ek 'n vers oor 'n komeet skryf?
...
Wyd hurk die museums oor hul skatte,
stijf hou hulle hul dakke vas,
oop stoor hul die indrukwekkende deure,
en kyk, dit drentel na binne
en kyk, en drentel na buite
en miskien bly rakelings op die oppervlak
van vaas en vis 'n aanraking oor
tussen speur en sien, die omwentelende moment,
dit wat nie bewaar kan word nie,
dit wat gebeurd gebeur,
gedurigdeur, werskante van die laan,
skeiding tussen die stellings van kuns en wetenskap,
die bindende, tronende eikenlaan
waar ek, oopgedroom, museums toe stap.
...
Soek haarself, blaak nog nie.
Nuwe voue in haar liggaam
laat haar voller stap. ‘nie meer so
breek almal, breek my hart, ek,
bitter blom, is oop, ek het.
Stap, die arms voor die buik
wat van het vier keer geswel het,
niks volledigs, popvolmaaks kon baar.
Soek haarself in winkelvensterpoppe'
uitskoppende liefdingetjies altyd net so,
altyd so viets, so het-bewus,
het 'n liggaam al het 'n versierder
tydelik 'n ledemaat uitgewring.
Het aandag nogtans van hom en haar.
Soek en sien haarself verbyskuif.
Ou pop. Het beweging. Het en is.
En as sy nóú sou verstil tot pop?
...
VERDAMPEND
Noudat ek brosser beginne word,
weet ek nie meer so mooi
hoe ek dit het en waar ek hoort.
Die son die brand my skouerknoppe
bruin soos beskuit se ronde korsies.
Ek was so'n sappige kind!
'n Hele tagtig persent water
gerangskik om 'n skelet
nogal met skarniere toegerus
sodat ek die aarde kon bewandel,
vol verwondering kon raak aan
ander saamgestel soos ek: water
water water water water en.