Die Vrou Aan Die Ander Kant Poem by Amanda Boucher

Die Vrou Aan Die Ander Kant

Die vrou aan die anderkant kyk stil terug na my. Woorde is nie nodig nie. Ons ken mekaar goed. Haar blou oë is die venster na haar siel. Daardeur sien mens haar diepste binneste. “Jy het ‘n vreemdeling geword.” wil ek vir haar sê, maar iets in haar houding, in die blik in haar oë sê: Ek weet.
Die lyne om haar mond getuig van ‘n paar jaar wat verby is. Jare waarin vele dinge gebeur het. Dinge wat na aan die hart lê. Miskien verbeel ek my, wie weet. Sy slaan haar oë af, asof sy nie wil hê ek moet so diep kyk nie. Dit voel soos nou die dag, toe ons ook so gestaan het. Sy het mooi geglimlag. Jonk en stralend. Reg vir haar groot dag. Reg om die wêreld te verower. Maar sy lyk nou anders. Goeie gewoontes is afgesterf. Dinge wat belangrik was bestaan nie meer nie. Mense vir wie sy eens omgegee het, is weg. Om verskillende redes. Wanneer sy weer opkyk is daar nuwe lig in haar oë. Haar hare hang skouerlengte. Soms moet mens dinge opoffer ter wille van ander. Sy kyk my vas in my oë. Die vrae….die “waaroms” en die “hoekoms”. Hoe moet ek die antwoord ken? Hoe moet ek weet waarom jy party mense liefkry en ander nie? Hoe moet ek weet hoe die dinge werk? Liefde. Mens kan dit tog nie verklaar nie. Daar is al baie dinge daaroor gesê en geskryf. Baie liedjies is al daaroor gesing. En steeds kan niemand dit verklaar. Die liefde is nie iets wat jy kan sien aankom nie. Op ‘n dag kom dit sommer net so. ‘n Vinnig blik in ‘n vreemdeling se oë en dan is dit daar. Maar jy moet vergeet. Aangaan met jou lewe. Is dit waarom Salomo so baie vroue gehad het? En tog sê die Bybel jy moet jou naaste lief hê. Kry mens dan verskillende maniere van lief hê? Is liefde dan nie dieselfde nie? Ek bedoel… of jy het iemand lief of jy het nie. Waarom wil ons altyd alles so kompliseer vir onsself? Ek wil haar liggies aanraak. ‘n Haarlok uit haar gesig vee. Asof ek daarmee wil sê: “Jammer dat ek jou ook oordeel”. Maar ek doen dit nie. Ek wil haar saggies teen my aandruk. Soms is sy tog nog so onskuldig in haar doen en late. Soms bedoel sy net goed. Kry ander mense, die vir wie sy leer lief kry het, net jammer. Sy wil hulle van haar liefde gee. Maar soms kan mens dit nie doen nie. Soms laat mens se siel verkeerde mense, te na aan jou toe. Soms sluit jy jou hart oop vir ander mense, wat nie op daardie tydstip in jou hart mag wees nie. Nie op daardie manier nie. Anders kry ander mense wie jy lief het seer. Die een persoon wie jy miskien die liefste het. Maar sy verstaan. Sy ken my goed. Sy was nog altyd op die agtergrond. Geskuil vir ‘n lang tyd. Terwille van my. En nou….? Nou kan ek haar nie haar vryheid gee nie. Ek mag nie. Want ek het haar nodig. Sy glimlag stil vir my. Sy verstaan. Sy is lief genoeg vir my om my te laat begaan. Toe te laat om maar net aan te gaan. Miskien bid sy, nee, ek weet sy bid vir my. En miskien sal sy eendag tog kan aan beweeg. Haarself kan laat geld. Maar vir nou sal ek haar sien elke keer wanneer ek in die spieël kyk. En ek sal weet dat sy verstaan. Dat sy probeer om my aan mekaar te hou. Om my naaste lief te hê. En steeds ander te help as ek kan. Maar om te probeer om hulle nie in die middel van my hart te sit nie, maar daar waar ek al die ander mense ook sit.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Amanda Boucher

Amanda Boucher

Vereeniging South Africa
Close
Error Success