Liefde Beluister Poem by Elna Agenbach

Liefde Beluister

l)
as my hart
die môre-dou
se traan onthou
hoe dit
aan die kant
van die Namib
se sand vasklou
tot son en struik
dit skoon opruik
en my ore loop
uit die bloedrooi
dam
van jou liefde
se doop
dan sal
die tap
van my voete
na jou toe
drup
dat jy my
op die tong
van jou oë
kan proe
maar vir nou
roep ek net
na jou

II)
ek wou kyk
hoe vang
die kleure
van die son-
oplig jou siel
waar ek stil
tussen klip
en skarrel-
stof verdwaal
met maar
die welwitschia
se blaar
om my warrel-
hart vas te hou
en voel
hoe wang
jou siel
se geure
op die gesig
van nog
ʼn dag

lll)
my geliefde
is ʼn gemsbok
onder die manne
sy staan
hang
waar die môre-dou
se traan
in die duine-duike
van sy voete
plof
hy is lig
van gelaat
daar is
geen rimpel
op sy huid
as julle hom sien
kom roep my
waar ek
die welwitschia
se blaar oor
my naaktheid
vou en huil

lV)
wie het my omgepraat
om jou te verlaat
my siel is omgewoel
my hart is geskraap
en die duisternis
korrel koggel my
die môre-dou se oë
is wyer as die woestyn
en sy het jou gesien
toe sy trippel sag
soos koggelmander-
voete oor die duine
asem skep voor sy
weer gaan slaap

V)
bring my hart
uit die brand
van die asem-
lose sand
my geliefde
se enkels
is sterk
en puur
wie van julle
het hom
opgemerk
by die dreun-
sand het ek
hom verloor
die duine-
sand wat huil
dis waar ek
hom laaste
gesien het

Vl)
jy is natgedou
jou siel is fyn
jy is so mooi
soos die spore-
lose woestyn
en as ek jou kry
wil ek net
aan die glans
van jou voorkop
met my vinger-
punte raak

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success