Liefde, Ekke Poem by Gerhardus Keen

Liefde, Ekke

Donker wolke pak buite saam
net soos die gevoel in my gemoed
en die wind wat treurig deur die bome waai
weerspieël die storm wat in my woed

Die koue klem hier om my hart
waar ek sukkel om jou uit te hou
maar dit laat my angs net erger voel
en herinner my méér aan my liefde vir jou

Ja, natuurlik mis ek jou
het jy dan iets anders verwag
ek verlang na jou nabyheid
elke dag en elke nag

Soms voel ek jou nog hier langs my lê
net om ontnugter wakker te word
en te besef dit was slegs in my droom
waar ek my liefde aan jou uitstort

Ek weet jy lê en dink ook soms aan ons
dis wanneer ek jou voel hier naby my
en ek weet dat jy ook wens
dat ons weer 'n tweede kans sal kry

Soms glimglag ek sonder rede
dis wanneer jy my gedagtes kruis
en dan loop ek en soek jou tevergeefs
in die koue - leë huis

Jou eerste briefie aan my bewaar ek soos goud
jy het dit saam met my kos ingesit
dit bly in my kar se sonskerm
en kort-kort lees ek dit

Ek weet dit was met baie liefde geskryf
wat ek nou mis in al die leë vertrekke
'n paar eenvoudige woorde, maar blywend in my hart
'Jy moet lekker daggie hê! ! ! Liefde Ekke ❤️'

© Gerhardus Keen (GK1)
02 September 2020

Liefde, Ekke
Thursday, September 3, 2020
Topic(s) of this poem: letter,love,missing you,smile
COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success