Stadig loop ek deur die gange van my gedagtes
en maak elke kamer se deur saggies oop
herinneringe van gisters in elkeen weggesluit
sommiges sleg en ander weer goed
In een sien ek net hartseer en maak die deur vinnig toe
ek wil hierdie deur sluit en nooit weer binne gaan
en maak ‘n groot X op die deur
ek het dit nie nodig vir my gemoed
Dan sien ek ‘n kamer gevul met lag en vreugde
en ek sien hoe my moeder my as baba aan die res van die familie voorstel
en hoe trots sy was toe ek my eerste treë gee
en dan met my eerste skooltassie na graad een toe gaan
Hier vertoef ek lank want my moeder is nie meer met ons
en gedagtes aan haar liefde vul my hart
dié deur gaan ek oop los en nooit sal ek hom sluit
want haar liefde en deurnis het vir my ‘n pad gebaan
Traag verlaat ek die kamer om verder te soek
want tussen my geboorte en nou het ek myself verloor
Ek kom in die kamer en sien myself as dertienjarige seun
met my moeder en my broer en susters maar sonder my pa
hulle is nou geskei en skielik moes ek die leisels oorneem
wat se groot verantwoordelikheid om op ‘n kind se skouers te rus
Dis hier waar ek besef ek het daai onskuld van kindwees verloor
en moes los werkies doen om kos op die tafel te bring
en ek moes as vaderfiguur optree vir my susters
sodat daar darem vir hulle ‘n beter lewe is
Jare loop ek met die woede
ek is van kindwees ontneem
en ek weet nou waarom ek myself nie kon vind
want ek het myself nie eers herken
My woede maak plek vir empatie teenoor my moeder
wat vyf kinders alleen moes grootmaak
en vir die gebrek aan liefde in haar lewe
terwyl sy ons beskerm soos ‘n moederhen
Terwyl trane teen my wange afloop stap ek uit die kamer uit
en loop sommer verby ‘n klomp ander deure
bang vir wat ek sal sien en die gevoel wat dit sal bring
en ek othou skielik baie goed waarom ek so min in my gedagtes ronddwaal
Ek sukkel om myself tot die hede te roep
want hier ervaar ek ook dieselfde pyn van verlies en verwerping
en ek besluit om op te hou soek na die ek wat ek wou wees
en die lewe in die gesig te staar as die self wat ek nou is of ek nou wen en of ek faal
© Gerhardus Keen 27 Oktober 2020
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem