Susara Domroch van Kubus
‘nee Oupa Mandela vir hom stem ek
hoekom is om Nama te wees vandag om iets te wees?
omdat ons nou ons eie woord is
onder die ou regerings was ons hulle woord
oor jarre is ons uitgedryf na die bar plekke
Kleurling Reserves
ons was niks
maar vandag is ons iets
en dis hy, daai Ouman Mandela, dis hy
nee Mandela-goed het my stem gekry'
Kubus se kerk staan wit teen die kwartsiet lug
en stoot stem teen die rante uit
‘o God blaas en bloei u liefde oor ons,'
sê oom Adam
hand op die hart sing die gemeente
‘ja Jessus is 'n rots
in 'n dorr-stigge land
'n dorr-stigge land
'n dorr-stigge land'
‘U is soos wasem vir my
Hiesus Hie-ie-ie-sus'
Kubus háng aan die rante van Rosyntjieberg
dit vra baie God om hier te hou
Mev Farmer van Eksteenfontein
‘ek's mos vreeslik vás aan vee
'n huis is vir my niks
maar die ope veld
ek het grootgeraak so in die ope veld
in 'n ronde huisietjie
toe ons hier kom, reën dit
en die gousblomme staat so hoog
as ek hurk sit ek onder 'n blommevloer
daarvandaan het ek die plek aangeneem
dat ek hom nounog liefhet
vir die aard
vir die veld'
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem