SATURDAY NIGHT ALIVE Poem by Danie Marais

SATURDAY NIGHT ALIVE

Ek doen die
Saterdagaand-te-veel-retro-bier-met-
happy-hour-in-die-Heartbreak-Hotel-nommer.
Ja,
ek doen toe weer die ou
"man-who-wants-to-live"-drink-naweek-bier-roetine
pligsgetrou soos 'n omie
wat sy bene probeer terugwen na 'n beroerte
sy oefeninge-nommer.

Ek doen die-nagtrem-huis-toe-nommer -
ek check die
paartjies-koer-saam-teen-die-koue-item;
ek sidder stilletjies vir die
alleen-bum-uitgepass-tenie-ruit-
met-die-blou-spinnerak-wat-opkruip-tenie-nek-tattoo-routine.

Ek doen die skielike-bevlieging-uitwaai-in-die-nag-nommer
om die-walking-on-Miles-Davis-blaas-blou-trompet-
oor-die-diep-rivier-met-die-olie-neon-drome-op-scene
te loop-speel.

Ek doen die inval-by-die-flat-
storm-die-yskas-nommer.
Ek doen die Judy-Garland-op-die-vensterbank-
met-Amaretto-en-melk-
"somewhere-over-the-rainbow"-
wat-die-dokter-my-verbied-het-program.

Ek doen weer die uit volle bors
"What-now-my-love?-
now-there-is-nothing-
I-feel-the-world-
closing-in-on-me-"
die "What-now-my-love?-
now-that-it's-over-
-there's-only-sky-
where-the-sea-should-be-"
nommertjie.

Maar ek doen veiligheidshalwe ook die selfkritiese-
1-2-3-blok-myself-
is-die-gedig-noodsaaklik?-
-prosedure
Ek doen die skud-en-skop-die-ou-moedertaal-
soos-'n-defekte-Coke-outomaat-in-'n-uitgestorwe-Bahnhof-
op-'n-klein-Duitse-spookdorpie-lank-na-middernag-roetine.

Ek ruk en pluk my kop-taal-hart soos 'n pinball-masjien
en dan doen ek skouerophalend
die-Send-nommer -
sit af die computer,
verlaat die gedig-kamer,
borsel tande,
loop gly paling en sy
in die bed.

In die bed lê ek dan elektries
stil, wa-wyd wakker -
kyk deur die blindings
hoe swart die nag
hoe sekel die maan.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success