LEA ANDREWS Poem by Danie Marais

LEA ANDREWS



LEA ANDREWS
GOUSBLOMSTR. 9
WESBANK
MALMESBURY
7300


Toe ons - my suster, my neefs en ek - klein was
het ons dikwels by Lea in die kombuis gaan eet.
Sy het ons stories van kabouters vertel
wat sy self uitgedink het.
Daardie ure van my kinderdae is dit wat ek onder
die Engelse woord ‘spellbound' verstaan.

Lea is die bruin vrou wat by my ouma Max
in die huis gewerk het vir meer as veertig jaar.

Sy het soos my ouma van ons,
die kleinkinders en ons ouers, as "die kinders" gepraat.
Met elke verjaardag en kersfees was daar altyd
'n kaartjie en 'n geldjie met ‘Liefde'
Van Lea.

Lea het nooit 'n man of kinders gehad nie.
My ma sê daar was êrens 'n oom wat kleintyd
met haar gelol het. Ek het Lea
nooit self daaroor hoor praat nie, maar sy
het dikwels op haar beslissende manier gesê
dat sy nooit juis baie tyd vir mansmense of enige ander
lui, slegte ‘skepsels' gehad het nie.

My Oupa Dirk was 'n dominee in die Sendingkerk in die Kaap.
Toe hy Alzheimer's kry en bedlêend word,
het Lea geglo ‘Meneer' se versorging
is 'n opdrag van die Here, 'n kans
om Hom te dien.
Sy en ‘Juffrou' het oupa Dirk gebad en gevoer
en gehelp met dieselfde onwrikbare geloof
waarmee hulle skaapboud en bruin aartappels voorberei
of druiwekonfyt gekook het.

Oupa Dirk is na jare se terminale, slopende aanwesigheid
uiteindelik oorlede.
Lea en Ouma Max het vasberade aangebly in Leipoldtstr. 23
om saam aan die kombuistafel te sit,
om te bid en tee te drink,
TV te kyk en te treur,
Huisgenoot en Bybel te lees en te wonder
oor "die kinders".
Ouma en Lea kon nooit saam aan die eetkamertafel sit nie,
maar hulle het in Parow-Noord verbete saamgebly
om vir die rose, die skilpaaie en die rotstuin,
die buurt se honde en mekaar te sorg
tot hulle nie meer kon nie,
tot Ouma Max moes ouetehuis toe.

Die Panaroma-oord was ongelukkig te veel van 'n wegwedstryd gewees.
Dit sou vir Ouma nooit meer as 'n wagkamer kon word nie.
Nie dat sy net gaan lê het nie.
Sy het dikwels vertel hoe mooi die maan van die dak af is
waar die ‘oumense' vanweë die steil trappe
nie meer kon uitkom nie.
Maar die maan en die dak was nie goed wat Ouma
kon water gee of voer nie,
nie goed waarvoor sy kon omgee of sorg nie.
Sy sou daar nooit anders as nutteloos voel nie.

Lea het op 80 nuut begin.
Met spaargeld het sy 'n eenkamerwoonstel laat aanbou
by familie in Malmesbury.
Tussen platgetrapte heinings, daggarokers,
hoenders, armoede, eende en Vaaljapie -
die gesukkel van Wesbank -
het Lea begin tuin maak
asof die res onbenullig was.

Toe ons die eerste keer in Gousblomstraat afdraai
was dit maklik om te raai waar Lea nou woon.

Lea het in haar tuin aan my gesê:
"Basie Daan, 'n bietjie mooi rondom jou is mooi
vir almal om jou."
En toe het sy 'n bietjie nagedink en bygevoeg:
"Dis as jy ‘n mens is wat omgee."

Lea het vandag 90 geword.
Ek was nie daar nie,
Ouma ook nie.

Nadat Ouma dood is,
het Lea vir my neef Jean gesê dat sy vir die eerste keer
nie meer die moeite wou doen
om soggens op te staan nie.
Dit het nie gelyk of daar meer rede voor was nie.
Maar nou gaan sy glo weer aan, speel toneel
saam met 'n kerkgroep
en woel nog steeds in die tuin.

Ek onthou vandag hoe ek
Ouma en Lea die laaste keer saam gesien het.
Ek het vir Ouma by die ouetehuis gaan haal.
Met 'n melktert en 'n ou selfoon vir Lea
is ons Malmesbury toe.
Ouma vra twee keer of ek al genoeg geëet het,
maar sy praat nie so baie soos vroeër nie.
Dit is net die nuwe tronk langs die pad
wat hulle vir "die kwaaddoener" gebou het,
waaroor Ouma kan opgewonde raak.

Toe ons by Lea aankom,
loop Ouma deur Lea se tuin
asof dit haar ou tuin is.
Lea was bekommerd oor my neef Jean se motor en wou weet
of dit 'n kar is wat "skree as die volk aan hom vat".
Ek het gelag en gesê:
"Nee, Jean se ou kar is nie so deftig nie,
moenie bekommer nie."
Ouma was nog steeds ‘Juffrou' en Lea net Lea,
maar Ouma se effe neerbuigende raad
kon kwalik haar jaloesie verbloem.
Sy sou baie liewer nog wou tuin maak saam met Lea
as om saam met die oumense in die son te sit,
maar Ouma was aan die glip.

Na haar kritiese inspeksie van die tuin
gaan sit Ouma en ek aan Lea se enigste tafel -
Lea, soos altyd, 'n tree weg op 'n kombuisstoeltjie,
half om 'n hoek;
Oortjie, die steekhaarbrakkie, aan haar voete.
Lea het "haar plek" leer ken in 'n ander tyd,
kon net so min aan tafel saam sit
as wat daar plek vir haar in Ouma se ouetehuis was.
Dit was vir albei ondenkbaar.
Maar ons het saam melktert geëet en tee gedrink.
Ek het vir Lea gewys hoe om met die selfoon te werk.
Sy het aandagtig geluister, maar effe
wantrouig na die apparaat gekyk.

Ouma het vertel dat haar kop "nie meer vat nie."
Sy was oortuig dat dit die pille se skuld was - die pille
wat die dokter haar teen duiseligheid gegee het.
Lea het saamgestem:
"Juffrou is mos nie so nie", het sy gereken,
maar bygevoeg:
"Ai, Juffrou, 'n oumens is soos 'n ballon -
een gaatjie en jy's weg."

Ouma en Lea het nie meer veel gehad om te sê nie,
maar die stilte tussen hulle
was nie leeg nie.
Veertig jaar van vertroue en welwillenheid
het tussen hulle gelê
soos 'n gedeelde herinnering.

Na 'n tweede koppie tee moes ons groet.
Dit was die eerste keer wat ek
Ouma vir Lea sien omhels het.
Lea kon nie terugdruk nie.
Sy was verstar.
Lea het nie gehuil nie,
maar haar oë was kniediep
in helder water.

Ouma het met groot moeite in haar sitplek omgedraai
om 'n laaste keer vir Lea te sien en te waai.
Ek het weggetrek
en die ou metaalblou BMW
het begin beweeg,
het weggedryf met ons binne in
en Lea in die agterruit,
na 'n plek sonder woorde,
'n plek sonder sein.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success