SOMS ONTMOET JY IEMAND Poem by Danie Marais

SOMS ONTMOET JY IEMAND

Vanoggend ons kat salig
opgekrul in die wasgoedmandjie gekry.
Een slapende poot oor haar kop,
twee wit agterpote
sirkel voltooi.

'n Kat is sy eie bed,
eie huis, party, geloof, beweging, verbond.
'n Kat is ‘n perfek onverstaanbare woord van pels.

Mense is nie so nie.
Mense is padtekens op die bodem van 'n oseaan
gedroom van woorde.
Mense staan leeg.
Mense is ‘Te Koop'.
Mense is 'n doodloopstraat.
Mense vat wat hulle kan kry.
Mense fladder soos motte om 'n maan van lank gelede.
Hulle kan hulself nie help nie.

Katte kom woon net in mense
wanneer hulle moeg, lus of honger is.

Mense wonder al eeue lank oor katte.

Huiskatte eet hulle mense
net wanneer hulle mense reeds dood is.

Soms ontmoet jy iemand wat nes 'n kat is.

Jy vind die betekenis van jou lewe
in die klank van haar naam.
Jy hardloop hande-viervoet agter haar parfuum aan,
maar as jy haar kry
verander haar oë
jou hande in skietgebede
jou tong in sand.

Sy verdwyn soos donker in die nag.

Al wat van jou oorbly
is die buitelyne van 'n leemte -
'n kringetjie rook
bruin koffiering op 'n wit bladsy
trouring in jou laai.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success