sedert Poem by Antjie Krog

sedert

ons die pad begin loop
het, het die irisse
uitgeblom die verla-
te oogballe van die
ligbloues die gevou-
de stil vlermuise van
die perses sedert ons

die pad begin loop het
het die gras in die saad
gekom het die botter-
blomme hulle blare soos
naelknipsels laat val
die japonikas wat
soos kamerjasse tus-
sen die seders hang is

bruin van die takke ge-
pluk sedert ons die pad
begin loop het, het die
bloureën se blink ponie-
sterte uitgeblom het
die waterval banksias
haar ineenstorting vol-
tooi sedert ons die pad

begin loop het, het die
swaels begin terugvou
die jasmyne diep uit
hul slagare begin
geur die sneeu op die spit-
se gesmelt sedert ons
die pad begin loop het
het ‘n man geluidloos

agteroor gekantel
deur die lug wat ons in-
asem ag, dis al die
lug van die aarde oor-
weldig met die dun ge-
luid van verdriet sedert
ons die pad begin loop
het word ons saans donker

van tong en vertaal ons
ontbinding ons enkels
ruik reeds die reuk. maar god!
hoe sterk ons dye hoe
vurig hoe vlug van fi-
ligraan die hart wat ha-
merend die niet in neuk

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success