SONDAG, LAAT - BARCELONA Poem by Danie Marais

SONDAG, LAAT - BARCELONA

Rambla de Catalunya aan 'n feestige tafeltjie
Met 'n rooi tafeldoek;
Alles laat en vol, orals die klank van Spaans -
Spaans met mense in,
Vol van ver en weg, koue bier en tapas
wat so mooi ruik
dat alles na 'n ander lewe moet proe,
maar jy sê ek moet asseblief "bitte keine Witze machen"
want jy gaan huil,
jou oë swem al klaar.
Jy weet nie wat nou skielik so vreeslik fout is nie,
seker hormone, maar jy't jou die hele dag lank
sien dikker lyk in hierdie blink winkelvensters
as elke vrou so oud soos jy in hierdie mooi stad
en jou hare val uit en jou vel pak op
en ek moenie vir jou sê dat jy vir my mooi is nie
want hoe sal ek weet want sien
ek kyk nooit eers meer rêrig vir jou nie.
Dis die probleem met my, sien?
Ek's altyd êrens anders, maak mos altyd
of alle ydelheid nonsens is.
Ek dink mos alles is buitendien uit rot en verval
aanmekaargesit,
maar ek moenie glo dat ek so vir jou help nie
want die ander mans is in elk geval "überhaupt nicht"
glad nie soos ek nie
en jy wil vir ander mans ook mooi wees, sodat
hulle na jou moet kyk, sodat
jy kan goed voel saam met my
en ek sê maar hulle kyk, hulle kyk
ek sweer,
maar dis nie oortuigend nie want jy sluk
so absoluut redeloos bedroef, jy kyk so
godverlate deur my
dat ek onredelik woedend wil raak van onmag, maar
ek drink maar ernstig bier,
probeer simpatiek toemaar kyk, probeer
jou hand vat,
maar jy trek weg en ons sit maar so
tot jy nie meer kan nie en sê ons moet
asseblief ‘bitte' hotel toe en bed toe
jy voel naar van misrabel jy't 'n klip in jou maag,
"einen Stein im Bauch",
jy's jammer jy weet nie, seker niks,
"es geht schon wieder"
maar nou huil jy rêrig en ek
ek sit en kyk
na jou
sit net
en kyk na jou.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success