plant kweek my heer
in halfskadu bokbaaivygies
vir kleur net om te kan sien
iets groei en waarlik
als is nie dood nie verby
en saans speel ons kaart
om die tyd om te kry
totdat daar vorm kom
syfers in jou kykers blom
in al ons jare nog nooit
was jy so dapper my man
ons sit in water en kweek
se verkwikkende geur
as somers se aande breek
in winters week na week
en jy teen die gladde
wande probeer uitklim
kom plant saam met my
malvas pienk en kaktus rooi
voordat die nag ons kry
en waag dit om te lag
in die hittegolf van ʼn land
waar werk skaars is jy wit
en jy nogmaals buig voor
venynigheid en onbegrip
in die put van werkloosheid
is jy vir my so mooi my lief
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem