BARCELONA - 2 EN ‘N 1/2 JAAR LATER Poem by Danie Marais

BARCELONA - 2 EN ‘N 1/2 JAAR LATER

Ons sit waarskynlik 'n laaste keer saam in 'n restaurant.
Die plek se naam is La Veronica -
die ene minimalist chic in die gothic deal van Barcelona, nogal:
pragtige slaaie, 'n bottel rooi wyn en ‘n bottel water voor ons,
'n huwelik agter ons
en jou bril is donker en jou top is oorlogrooi.
Die stoele en tafels is wit wit oblivion wit.
My hemp is blou, raserig Hawaii-blou.
Party mure is rooi, jou oorlogrooi,
en ander mure is wit wit.

Ek praat nie meer nie,
maar jy klim nog 'n laaste slag in -

Jy sê
ek moenie dit ooit weer durf waag om vir jou
enige iets
van nuwe kanse of ‘n nuwe begin te sê nie.
Dit is 'n krisis!
Jy ly!
Jy is onder in die put!
It is not a learning experience!
Moet almal Joego-Slawië toe gaan om te leer
hoe oorlog en dood en verwoesting is, eh?!

Jy sê, sagter nou, 'n ander ou het jou jare gelede ook verlaat
in 'n verhouding, wat jy gedog het, okay was.
"Er war auch ein lieber Kerl.
Menschen haben ihn gemocht."
Ja, hy was ook 'n liewe ou soos ek, sê jy,
maar dit het jou groot plesier verskaf
toe jy later gehoor het,
dat hy steeds probleme met vroue het,
vertel jy en maak jou mond eers finaal toe
in 'n dun, bitter lyn.

Uit frustrasie draai jy 'n suikersakkie nek om
sodat wit suiker stadig val
op die raving oranje tafeldoek,
terwyl jy begin huil agter jou donkerbril.

Ek drink rooi wyn en voel naar.
Dit is uitmergelend om jou so te sien,
maar ek sê niks meer nie
want ek weet jy luister nie.

Ek laat jou maar huil
want al wat ek skynbaar rêrig onthou
is 'n woonstel op die bodem van 'n troebel hemel,
'n ‘Wohnung', 'n gehuurde eensaamplek
waar mens altyd weer raas en heimwee gekry het,
waar die stort op full blast altyd net gedrup het,
waar jy altyd reeds geslaap het,
waar net jou poster van Betty Blue bo die hi-fi
laatnag vir my gewag het om alleen huis toe te kom
en haar favourite razor sad songs te speel.

Ek onthou 'n huweliksbed
waar my liefde na 'n jaar of twee
altyd eers moes
moddervoete afvee of nat hare droog maak of naels sny of houding kry
voor dit soos 'n hond op die grond
of buite op die balkon moes slaap,
terwyl ek soos 'n insomniac soft-toy
snags langs jou kom lê het.

Jirre, Schatzi, ek sweer ek onthou
van 'n woonstel en 'n huwelik soos
'n olifantbegraafplaas vir drome -
'n plek waar liefde en potplante
vir dood agtergelaat is.

Maar jy hou op huil,
kyk na die byna leë bottel wyn,
die vol bottel water
en sê ingedagte, jou stem vreemd:
"Tja, irgendwie waren wir nie große Wassertrinker."

En nou swem my oë
want ja, somehow was ons nooit groot waterdrinkers nie,
op een of anner manier was ons net nie
nooit-ooit whatever, somehow, in elk geval, nie.

Ons drink in stilte die laaste paar slukke wyn -
die restaurant se cool acid jazz
blowing blowing gone;
twee heavily tattooed punks wat skateboard onder die arm
langs die groot glasvensters verby verby kom.

"La cuenta, por favor."

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success