'HAWAD, DER EINZIGE DICHTENDE TUAREG' Poem by Danie Marais

'HAWAD, DER EINZIGE DICHTENDE TUAREG'

Paris, hier bin ich
meinem Kopf vorauseilend,
Meinem Kopf eines ewigen Tuareg-Piraten
Sinnbild des Schmerzes,
ich komme, hier bin ich
den Tabak der Ironie kauend.

Hawad, Horizontenentführung
Beste Hawad

Toe jy op die verhoog verskyn het
hier in Bremen
voor ‘n afgerigte gehoor vol ontwerpersbrille
het ek nie geweet wat om te verwag nie.

Op die feesprogram van International Poetry on the Road
word jy as "die enigste digtende Toeareg"
geadverteer.
Daar is min dinge wat my so minagtend laat snork
as hierdie soort neerbuigende politieke korrektheid.
Hulle kon jou net so wel as
‘olifantman' of ‘vuurvreter' aankondig.

Maar toe jy, Hawad,
met jou willewragtag-James Brown-afro en denimbaadjie
begin brom en breek in Toeareg
was ek net bly dat hulle jou genooi het.

In 'n stywe Noord-Duitse lesingsaal het jy my laat hoor
hoe mens in die moedertaal van woestyn
streng met voorvadergeeste en Navo moet praat;
hoe jy die wilde woestynwind paai
in 'n sterwende taal.

Hawad,
as jy so sou te kere gaan op ‘n straathoek
sal hulle jou opsluit.

As jy so sou huil en bid
op 'n anonieme sterfbed in Parys
sal die mense dink jy praat in tale
en die dosis verdubbel.

Beste Hawad
Ek wens jy kon weet
hoe ek verstaan -
verstaan van praat
met 'n koue, nat Novembernag in 'n taal
wat my vrou nie verstaan nie;
hoe ek weet van skipbreuk-roei met die tong
in 'n sinkende idioom.

Hawad, ek sien jy weet hoe dit voel
om dooie woorde te slinger na stilte
as die diep woestynnag
oor jou tent kom buk
om die kampvuur uit te doof.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success