BISMARCK EN DIE TUINMAN Poem by Danie Marais

BISMARCK EN DIE TUINMAN

In die lou badwater voel ek
die drukkende somerhitte.
Dis of ek sweet
onder my papnat, gewasde hare.
Die sonbesies buite
klink soos 'n sameswering.

In die bad onthou ek vandag
my kuiers by Leon met die groot ore
toe ek 11 was.

Leon was 'n bedorwe enkelkind in 'n groot huis
met 'n swembad en 'n tennisbaan
en 'n klomp plate en 'n ouma
wat altyd tuis was
om koekies en koeldrank aan te dra
as ons Wham of Michael Jackson luister.

Op die tennisbaan
het Leon my altyd maklik geklop
tot ek eendag 'n set gewen het.
Leon kon dit nie hanteer nie.
Hy't sy tennisraket op die grond neergegooi
en binne toe gehardloop.

Ek het onseker bly staan
op die vuurwarm tennisbaan.
Die kombuis se sifdeur het agter Leon toegeklap.
Die sonbesies het te kere gegaan.
Bismarck, hulle reuse-Rottweiler -
'n knorrige, opvlieënde bliksem -
was tussen my en die agterdeur.
Vir Bismarck was ek bitterbang.
Hy't een keer na my gehap.
Ek het nagmerries oor hom gehad -
hy het altyd van agter gekom.
Met die grom en die omkyk
was dit te laat.
Sy kake het gemaklik om my ribbekas gevou.
Sy tande het in my vleis weggesink
soos stewels in modder.
Hy het my in sy bek opgetel -
ek kon my hopelose tennisskoene in die lug
sien spartel.
Ek was te bang om te skree.

Terwyl ek oor Bismarck angstig was,
het die swart tuinier vir my geglimlag
en gewaai.
Leon het my al vertel
hoe hy die tuinman bekruip
wanneer hy gras sny,
en met sy BB-gun skiet.
Ek kon nooit verstaan hoekom
die tuinman met my vriendelik is nie.
Kon 'n mens 'n verskil
tussen my en Leon
sien?
Ek het gewonder of die tuinman
net so bang vir Bismarck was soos ek;
of hy Leon gehaat het
soos ek hom sou gehaat het
as ek die tuinman was?
Dat die tuinman vir Leon eendag
met sy tuinvurk sou doodsteek,
was nie vir my onwaarskynlik nie.
Die somerhitte en my angs
het sy wit glimlag
tot 'n hatige gryns verwring.
Die bloed in my ore
was harder as die sonbesies.
Ek het naar en duiselig gevoel.
Niemand het kom help nie,
want niemand was van enige gevaar bewus nie.
Ek het vriendelik vir die tuinman gewaai…

As ek so bang vir binne
en bang vir buite
soos vandag in die bad dobber
weet ek nie hoe om uit te klim nie.

Buite patrolleer Bismarck die aarde.
Binne glimlag die tuinman
lewensgroot.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success