Die dag wanneer daar nie meer plek is op `n boekrak nie, het van daai bladsye ongelukkig hulle doel en gevolglik hulle waarde in die paradys verloor
Die dag toe ons almal besluit het om sonder passie dieselfde lewenspaadjie te bewandel, het ons sonder rigting en ritme begin dans
Die dag toe tradisie en posisie vir vyandige verbeelding verdryf, het die wêreld vir kleur en tekstuur sonder geweld die deur gewys
Die dag toe onskuld, misterie en grenslose wonder plek moes maak vir mensgemaakte sekerheid en verlammende roetine,
het ons siele begin sug en musikale kreatiwiteit op vlug geslaan.
Die dag toe ons meer tyd en energie spandeer om ander te beheer as om hulle geduldig te ondersteun, het `n brose verhouding sy kunstige en strelende invloed vaarwel geroep.
Die dag toe ons die taal van ons harte ontken, het minderwaardige woorde en skaam sinne begin om hulle self onder vaal, lewelose, entrepreneuriese preke weg te steek
Die dag toe kritiese denke sonder vergoeding opsy moes skuif vir vooropgestelde idees oor elke liewe onderwerp, het `n flukse verstand na vreemde verdowing begin vry
Die dag toe daar al hoe minder ruimte geskep was om respekvol van mekaar te verskil, het absolutisme kaalvoet en hardegat die tuin verlaat
Die dag toe ons ons liefdevolheid en opregte ontferming slegs op `n Sondag-oggend kon uitleef, het Dinsdag vir Maandag begin vloek en Vrydag `n nuwe onverskilligheid aangeneem
Die dag toe maer materiële mag `n bietjie betekenisvolheid aan die keel wou gryp, het ons met die glanslose waarde van `n kosbare lewe op aarde begin dobbel
Die dag toe ons nie meer daai dag kon onthou nie...was dit nag!
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem