IN DIE DONKERKAMER Poem by Danie Marais

IN DIE DONKERKAMER

Ek het foto's geneem op al die ver plekke
waar ek was sonder jou;
foto's wat moes bewys hoe volledig
my lewe nou sonder jou is.
Ek het gelate probeer glimlag
vir die kamera
soos 'n man van die wêreld,
wou beslis nie lyk
na 'n ou wat nie 'n paar soene
en 'n verspeelde kans kon oorleef nie.
Maar my foto's uit Noorweë, Griekeland en Thailand
het nie ontwikkel in die prentjies
wat ek beplan het nie.
In die donkerkamer
het jou gesig
oor en oor aan my verskyn.
Die druipnat velle wat ek in 'n ry uitgehang het
was die oorbeligte beelde
van my lewe sonder jou;
die foto's wat ek aan mense gewys het
die gebleikte poskaarte
uit my nuwe lewe aan jou.
En tog het ek gehoop
die foto's sou jou oortuig.

Dit het nie.

Dis jammer, het jy gesê, dat ek
in Europa so 'n vicarious lewe lei.
Die woordeboek vertaal vicarious
as plaasvervangend, middellik, tweedehands.

Ek het driftig van jou verskil,
gesê dis net Toearegs en Amasone Indiane
wat nie 'n sogenaamd vicarious lewe lei nie.
En wanneer hulle om die kampvuur sit en stories vertel
is ook hulle lewens middellik,
tweedehands en plaasvervangend,
het ek bygevoeg.

Maar in die donker kamer
langs die slapende lyf van die vrou
met wie ek nou my lewe deel
weet ek, soos altyd,
presies wat jy bedoel.
In die donker
vat jou woorde weer
met sagte oë
aan my.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success