'N Nuwe Begin (Kort Verhaal) Poem by Gerhardus Keen

'N Nuwe Begin (Kort Verhaal)

Lena sit alleen by die tafel in haar woonstel en drink traag aan haar Douwe Egberts koffie, gemaak nét met melk en Muscovado suiker.

Sy is nou al langer as 'n jaar alleen en die seer is nog vars in haar geheue. 'Waarom het ek my hart op hom verloor', wonder sy? 'Almal het my tog gewaarsku en ek hét sy reputasie geken. Maar die hart laat hom mos nie voorskryf nie.'

'n Sagte klop aan die deur. Met moeite staan sy op, die swart merke van haar mascara, gemeng met trane, nog duidelik op haar wange sigbaar. Sy doen nie eens moeite om dit af te vee nie. Sy let nie eens op dat sy nog hier, in die middel van die dag, nog haar winters pajamas en japon dra nie.

Met 'n sug maak sy die deur oop. 'Ja, wat soek jy? ' Sy is nie lus vir gesêlskap nie. Maar al wat sy sien, is 'n reuse ruiker hier vlak naby haar gesig. 'Mevrou Lena Bruwer? ', vra die bode. 'Nee, dis MEJUFFROU Lena Bruwer', snou sy hom snerpent toe. Hy oorhandig die ruiker ietwat oorhaastig aan haar en maak hom haastig uit die voete, voordat sy die kans kan kry om hom verder aan te val.

Sy loop doelloos terug na haar stoel en sit die ruiker sonder enige seremonie op die tafel neer. Sy vat sommer 'n groot sluk koffie en toe merk sy eers die brief wat aan die ruiker vas is.

'Wie de hel stuur 'n brief saam? . Nie 'n kaartjie nie, maar 'n brief? .' Nuuskurigheid kry die oorhand. Bietjie tê gretig gryp sy die brief en vou dit oop.

'Liefste Lena. Vir méér as 'n jaar gaan ek elke aand saam met jou deur jou pyn. Ek hoor jou in die aande, as jy jouself aan die slaap huil. My hart skeur elke oomblik wat ek aan jou seer dink. 'n Engel deur 'n dwaas verniel. Ek wou al telkemale jou in my arms neem en vertroos, maar ek is ook bang vir verwerping. Ek het nóú eers genoeg moed bymekaar geskraap en hierdie brief geskryf. Ek moet hom stuur vóór my moed my begewe, want ek sal nie weer só braaf kan wees om dit te doen nie.

Jy verdien om soos 'n prinses behandel te word. Jy moet gekoester en getroos word. Jy kort iemand wat jou sal vashou, maar ook jou vryheid gee. Iemand wat jou sal liefhê sonder om iets terug te verwag. Ek wil jou deel maak van my wêreld, waar jy onafhanklik kan beweeg. My hele hart gee ek onvoorwaardelik aan jou. Woorde ontbreek my, maar ek wil my liefde aan jou bewys. As jy net bereid sal wees on my 'n kans te gee.

Ek is môre aand teen sewe uur by Die Koffie-en-Boek Winkel. Ek sal angstig wag. As jy nie opdaag nie, weet ek wat jou antwoord is en sal ek dit steeds respekteer.

Dankie en groete, jou buurman, Gert.'

Verslae sit sy die briefie neer. Sy het hom al soveel kere raakgeloop, maar nooit het hy haar enige aanduiding gegee dat hy hoegenaamd in haar belangstel nie. Hy het haar nog altyd net met respek behandel en beleefd gegroet. En nou verstaan sy skielik ook die seer wat sy gereeld in sy oë gesien het. Dit was nie sý seer nie, maar háre, wat hy gedra het.

Trane loop nou vrylik oor haar wange, maar dié keer is daar geen pyn wat saam met die trane kom nie. Vir die eerste keer, in 'n baie lang tyd, is daar 'n glimlag op haar gesig. Sy voel of 'n berg van haar skouers gelig is. Verbeel sy haar, of voel dit of sy werklik vlerke het? 'Nou raak ek laf' lag-sê sy vir haarself. 'Iemand het my raakgesien. Iemand het my lief nét soos ek is. Sonder om my te probeer verander.' Sy vee sommer haar wange af met die mou van haar japon. 'Wat gaan ek aantrek? Waaroor gesêls ons? Moet ek hom met die hand groet, of net 'hello' sê? . Denim of rok? ' Daar is so só baie dinge wat gelyktydig deur haar gedagtes maal. Maar sy voel of sy op 'n wolk loop. Sy word ook skielik bewus van die vlinders wat in haar maag draai en sy weet haar gebede is verhoor en sy begin met nuwe oë na die lewe kyk.

© GK1-23-Apr-17

Wednesday, April 26, 2017
Topic(s) of this poem: despair,divorce,love,new friendship
COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success