ROTSTEKENING Poem by Marlene van Niekerk

ROTSTEKENING

Wie jou, klein kwaggavul, orent maak staan alleen
hier op jou eerste bene, ‘n geboorte-oomblik
soos ‘n hand so groot, wankel en met lippe
van mekaar in vars gemekker, oogloos
in die eerste lig, ‘n bek wat onvas
na die uier proe, wie jou hier oprig,
Equuleus van die Cederberg, in die eerste hefslag
van die agterkwart, in die prekêre styfmaak
van die voorwerk, het 'n rooi balans in die grys
eenrigtinggrein van klip gewerp, ‘n swaartekrag
van weerloosheid berei, wat ons, toeriste
van vergetelheid aaneenryg in ontroering,
mededoë, moed, ons met jou eerste skilder bind
in die onspektakulêre patriotisme van teerheid.
In ons nawel roer dieselfde kwas, rooi-oker, elandvet,
in ons gesig dieselfde dooie sterre,
ons wat deur die eeue opkom uit die bruin rivier,
jou raaksien, herbenoem, behoed jou altyd, Celeris,
snel vibrerende skaduwee op hierdie drumpel rots -
ongeag jy sterf, jou snoet geplet
teen die grou gebod van die sterkeres,
of op ranke bene wegspeel, lieflik, pronkend
in die wynbruin water van die tyd.

(Brandewynrivier, Maart 2012)

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success