WINTERVINK Poem by Marlene van Niekerk

WINTERVINK

Die klein rooi vink,
so koen
tiep hy
uit die omswagteling
wat oogloos als
begrawe en omring,
hy ril,
en bol
sy rosse bef,
pof sy dons,
kwik sy stert,
rangskik die lanterns
van die linker- ,
en die regtervlerk,
poets
die goudvlek
op sy stuit,
rig
met ‘n verkwiekte blik
sy snuit
na botselknoppe
van die es,
vibreer
sy krop
tot warmrooi
sy keel
verblos -

en -

sneeuvry
laveer hy los
uit die bevrore
huls, rits
‘n vuurspoor
teen die lug,
voor hy verniks,
'n tint, ‘n klank
wat ons mekaar
vertel,
verswyg,
en hervertel
onder die tafellamp
as als weer wit
en swart
geword het
en verstil.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success