TRAPSUUTJIES Poem by Marlene van Niekerk

TRAPSUUTJIES

1

voorbeeldige gelatenheid van die trapsuutjies
so ongesiens en sonder smart
op die takkie van die japonica
op die takkie van die appelkoos
op die kruisement
op die wisteria
met vasvatvoetjie vasvathand
bestryk hy my tuin in elke trant van groen
onbewoë bard van stilte
in 'n treurlose heelal
ritselloos en sonder sterreval
tree hy oor sparre lig en skaduwee
met êrens in sy smaller kant ‘n vaste
gans vervulde enkelkamerige
gebrandskilderde klein hart

2

gestol uit ‘n reën van komete
sit op ‘n twyg die trapsuutjies geplet
‘n vuurstreep op albei sy flanke
sy mond is ‘n mond van gedwonge aanskouing
hy verseg een voet voor die ander
hy versit as die swaartekrag nie kyk nie
hy weet hy moet val
deur membrane van insig
in verhuisings na volgende rose
hy prokrastineer
hy kamoefleer
hy hou vas aan gras
vang vlieë met ‘n werwelende gomkolom
laat val uiteindelik in wrewel wit vliese
om vaartbelynd verder te perigrineer


3

was betrokke in ‘n skop skiet en donder
van drake my ore is duike
geduimhandskoen ek
niks aan te doen
aan die verminderde onderlip
aan die geradbraakte kraag
en die aardbologies
aan die hart wat klop in my maag
ek sien die wêreld met wêrelde
is ‘n tak op ‘n tak in die wind
beleef die verlange van vele
wat buk waar ek wieg
by die bog in my stert
by my ginderse tint
wat taal van hul taal maak my ter ere
gogga baken here wolk
openbaring posman perd
hulle moer
my tong is te taai om te tolk
ek is net my verminking werd

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success