Tot Volgende Keer Poem by Monica May

Tot Volgende Keer

Deur klein ovaal venstertjies
sit ek en staar na stadsliggies
wat ek saam met my hart
ver agter my laat.

Vir oulaas ‘n kyk na die landskap
Toegegooi onder ‘n laslappiekombers.
My gekneusde hart dieselfde skakerings
Van groen, bruin en donker pers.

Dan breuk ons deur wasige wit wolke
en die wêreld daar onder verdwyn.
My oë oorstroom met trane,
my siel verwronge deur die pyn!

Nog ‘n kuier is verby,
nog ‘n jaar moet ek weer wag,
voor ek julle weer kan vashou
en kan deel wees van julle elke dag.

Ek weet die keuse was my eie.
Ek’t self geplant wat ek nou maai
Maar dat dit ons so sou seermaak
Sou ek nooit kon raai!

Dan voel ek sy vingers vou om myne
En ek weet ek is nie alleen
Tree vir tree stap hy langs my
Deur sonskyn, wind en koue reën.

Hy weet hy kan nie die leemte vul
En nooit sal hy probeer!
Maar hy sal die stukkies bymekaar hou
Van nou tot volgende keer.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Monica May

Monica May

Vereeniging
Close
Error Success