Stadig en suinig strooi sy haar laaste bietjie bruinsuiker in die vallei langs my linker-wang,
`n Paar sagte korrels in die droë rivierbedding onder my regter-oog en die verslawende geur van swart koffie en moerbei tussen harde lippe en tande wat kners…
Kaalvoet en komkommerkoel klouter sy deur die kuis kamers van `n koue hart…
Met die onstuitbare drif van `n reuse roofvoël vul en vertroebel sy elke leemte van `n vroom en versigtige bestaan
met iets so kosbaar jy wil die soet en donker detail met niemand deel nie…
Meer gloed as glorie…
Sy`s elke verkeerde vrou…
Elke gapende afgrond…
Elke dapper Delila sonder noodligte…
Maar sy is vrou…
Meer vrou as vyand…
En sy sál jou pligsgetrou vind daar waar die samelewing nog `n skepsel verwerp
Of by `n kansel waar diep en martelende twyfel heers…
En ek…die éne angs, vodde en vreugde!
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem