BEAUTIFUL IN BEAFORT-WES Poem by Gert Vlok Nel

BEAUTIFUL IN BEAFORT-WES

& jy was beautiful in Beaufort-Wes en ek was so verskrik & verskriklik lief vir jou & ek & jy het op grafte & op treine & op Ford Fairlane se agterseats gevry nou is jy & jou man both computer analysts & laaswinter you tried to cut both of your wrists & nou kan jy nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets vir jouself doen nie, nooit ooit weer vir my soen nie.

& mooi mooi mooi was jou woorde ook terwyl jy menthol sigarette rook & daai sweet sweet dinge vir my sê terwyl jy sweet sweet in my arms lê & die presiese woorde het ek presies vergeet ek onthou net die rook & die sweet in Beaufort-Wes & jou kaal liggaam onder 'n cool summer cotton dress nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets vir mekaar doen nie, nooit ooit weer vir mekaar soen nie.

& dis miskien soos 'n storie uit Die Huisgenoot, maar jy't een aand skielik vir my weggestoot & in die rear view mirror jou gesig gekyk & gesê ‘miskien moet ek gelukkiger lyk' daardie aand kon ek nie aan die slaap raak nie & het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf & soos 'n roeiboot al die rivier afdryf ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets ooit reg doen nie, nooit ooit weer vir jou soen nie.

& die laaste herinnering waaroor ek sing is die nag toe ek & jy die melktrein aan & aan die nag in ry tot anderkant die ding dong gong van die breakfast waiter in die gang verby & dit was my wake up call my lief, jy het gesê ‘wees asseblief lief vir my', maar ek het gedroom ons het in Beaufort-Wes gaan woon & ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer so iets doen nie, nooit ooit weer vir jou soen nie.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success