EPITAPH Poem by Gert Vlok Nel

EPITAPH

Laasnag het ek gedroom dat ek weer in 1975 woon, die jaar
toe ek laas gelukkig was. Toe het ek afgekom by die trap &
vir my water getap in die kombuis dit was so stil in die huis.
Die mooiste jare is verby. Anyway & toe het ek gedroom dat
ek in 'n jaar so ver as moontlik van 1998 af gaan woon.

Laasjaar het ek gedroom dat ek weer in my eie mooiste
woorde woon in my mooiste dorp & dat ek weer gesond
begin te word. Toe het ek wakkergeskrik & iets was nie pluis
nie ek was so lost ek was nie in my eie huis nie.
Die mooiste woorde is verby. Anyway & toe het ek gedroom
dat ek in 'n taal so ver as moontlik van Afrikaans af kan
gaan woon.

In my boyhood het ek 'n meisie gehad sy was beautiful
beyond Afrikaans sy kon heelnag my so hartseer dans & sy
was somehow Gert se laaste stance. En toe het sy gedroom
dat sy in 'n lyf so ver as moontlik van my lyf af gaan woon.
Die mooiste liefde is verby. Anyway & toe het ek gedroom
dat ek by haar lyf so ver as moontlik van my lyf af gaan
woon.

Somewhere het ek gedroom dat ek my eie begrafnis bywoon
& Pa was daar & Ma was daar & al my gelifdes soos in my
gelukkigste jaar. Maar die mooiste was dat dit die mooiste was
dit dit was dat ek afgebuk het na die grond & myself gesoen
het op my eie mond.
Die mooiste drome is verby. Anyway & toe het ek gedroom
dat ek in 'n droom so ver as moontlik van hier & nou af kan
gaan woon.

Laasnag het ek gedroom dat ek weer in 1975 woon, die jaar
toe ek laas gelukkig was. Toe het ek afgekom by die trap &
vir my water getap in die kombuis dit was so stil in die huis.
Die mooiste jare is verby. Anyway & toe het ek gedroom dat
ek in 'n land so ver as moontlik van Suid-Afrika af gaan
woon. & toe het ek gedroom dat ek in 'n land so ver as
moontlik van Suid-Afrika af gaan woon.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success