NAGPSALM Poem by Marlene van Niekerk

NAGPSALM

dis ‘n ou klavier wat die nag verklaar
dis ‘n klawerbord
by die voete van dinge
by die voete van lamppale
by die vrank voete van olyfbome
dis metronome
by die soeter voete van die suurlemoenboord
in die vlei se voet van water
onder om die riete
om die voete van die lelies
dis ‘n ou klavier
miskien is dit ‘n weefstoel
dis die weefstoel se klikkende pedale
of smidsgetinkel
onder-in die molm van die nag
of ‘n naaimasjien met ‘n klopvoet
wat zik-zik binne-in die kuil
dis skelm jazz op klepels
dis om die voet van elke halm
minus melodie
sonder kadens
dis ‘n ou klavier
dis ‘n ou klavier
dis ‘n spikkeling onder die voetsool
dit galm
om die voet van die laventel
dis voetlepels
dis voetmusiek
van kikkers en van krieke
dis hulle wat so dingel en dienk
aanhoudend in die elm van die gras
hierby hum ek
hierby strum ek
hierby swingel ek
my nagpsalm

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success