WHERE I BECOME YOU (5.) Poem by Antjie Krog

WHERE I BECOME YOU (5.)



5.

ontmantelende sterreskuim
onttakeld
swierende sterrehope puin-
stof wat vormloos en maakbaar verdig

swaartekrag lê haar wil op
en weg meteens
alle geborge-wees

kwesbaar-tollend vorm die klodders hulle lemmende lig
sterre kwesbaar
sterre pokdalig

hoe draal die spiraalarms
om die pas statig-getilte teerheid
hoe chaoties die wirwar

sterre-speeksel
sterreskuimnewel
ons sou die saamwesendes kon gewees het
as ons bloeiender mekaar in die greep kon werf

maar nou kom jy my verhaal
aan die anderkant van hierdie skonkige wêreld
om uit-mekaar-uit-neer-gesit te word
die spykers in bloed
die melk in bene
die fosfor in die harsingkors
ons, ja ons bestáán uit sterrestof

sterre tongblind
sterre sterwend
so onvoorstelbaar dreun ons
so gigant dra ons ons ewewig
dat, as ons koud is
gloei ons soos ons brand

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success