Ek is vuur
gloeiend
verterend
magies en
atmosferies
intens
oorrompelend
en so brand ek
vir JOU
en dan is ek niks…
al wat oorbly
van my en my
woorde en
drif
is die grys as
wat weggevee
word deur
die wind
Ek is wind
driftig
heldhaftig
indringend en
ondersoekend
omhelsend
singend
en so waai ek
vir JOU
totdat ek stilword….
en dan is dit
ek en my
lied wat
verdryf word
in vergetelheid
van wysies
deur
die reën
Ek is reën
helder
betowerend
emosioneel en
allesomvattend
venuwend
bevestigend
en so reën ek
vir JOU
en dan is ek uitgewoed….
en die druppels
sak weg
in die grond,
maak plek
vir ‘n
geldige rede
‘n ander begin
‘n nuwe son
Ek is son
verstaan jy lief?
Ek is son
ek is maan
ek is winter
somer herfs en lente
ek is woestyn
en oerwoud
en see en berg
ek leef in musiek
en gedigte
en haal asem
in drome
waar jy jou bevind
hetsy op land of
in gedagte
dáár was ek reeds
en sal ek weer vir
jou wag
want ons is gesmee
ons is werklik
daar is geen
ander jy
of ander ek
wat geskep kan
word deur
woorde of
denke
Ek is vuur....
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem