Jongmensdrome Poem by Monica May

Jongmensdrome

Ek staar na reëndruppels
wat val en breek op die grond
en wegsink tussen die klippe
oral om my rond
net soos die jongmensdrome
eens hoopvol en sonder wrang,
gebroke en vergete gelaat word
deur die lewe se gang.

Die reuk van wintersvure
hang swaar in die lug
terwyl ‘n nikswerd son verdwyn
agter ‘n ou klipsteen brug.
Dan kruip die koue nader
soos ‘n skelm uit sy sel
en kom maak vir hom ‘n lêplek
diep hier onder my vel.

Die wind fluister deur die takke
Van ‘n kaal ou eikeboom
En bring vir my gedagtes
Van my eie jongmensdroom:
Om te reis na verre lande
Om te sien hoe lyk dit daar
Om te leef soos die hulle lewe
En self hul kulture te ervaar

Maar jongmensdrome dra soms maskers
Bedoel om te verkul
En hul wys eers hul ware kleure
Wanneer jy hul vervul
So nou sit ek hier tussen die klippe
Met reën en wind wat in my ore druis
En al wat my hart kan uitroep
Is “Ek wens ek was weer tuis! ”

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success