X.Vir My Suster, Danette Poem by YURI DURAAN

X.Vir My Suster, Danette

Ek het jou al van kleinsaf lief
met my eerste gewaarwording
was jy daar – het ons geheime gefluister
in donker kaste, opgekrul in ons eie fantasieë
kastele gebou op die stoep en
elke oggend met ons
kleindogtertjie-stemme ingeroep.

Ek het jou al van kleinsaf lief
deur die storm en drang
skreeu in die gang-af tye
die koebaai sê vir mekaar en
afstand vol swye - die skugter weersiens
en loer na ons lywe wat ontwikkel
en vrou geword het.

Ek het jou al van kleinsaf lief
en ek dra my eie vewyt dat ek nie
na jou gekyk het toe dit saakgemaak
het nie – nie jou veters geknoop of jou
vir skool klaargemaak het nie, en
nie jou vasgehou het toe hy jou
so seergemaak het nie.

Ek het jou al van kleinsaf lief
en die vrou wat jy nou is het
ek nie gemaak nie – jou ervaring
het jou gevorm en jou seerkry en
geluk jou laat ontluik en ek staan verstom...
want dis presies dieselfde JY wat ek
van kleinsaf liefhet.

COMMENTS OF THE POEM
Margaret Alice 17 March 2008

Sterk emosie, puik verwoord. ek het van kleinsaf nie 'n goeie verhouding met my tweelingsuster gehad nie - eers gemeen ek is 'n roos tussen die dorings van die familie, toe ontdek ek is die langste doring wat die seerste steek - dit waarvoor ek my familie kwalik geneem het, was my eie grootste tekortkominge. Vandag het ek 'n tweelingsuster wat ek nie sien nie - jy is baie gelukkig - ek het in 'n familieoorlog grootgeword en die weerklank van die skote is nog steeds iewers in my hart. Geniet jou goeie verhouding met jou suster, Vriendelike groete, Marilese.

0 0 Reply
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
166 / 122
YURI DURAAN

YURI DURAAN

South Africa
Close
Error Success